Spele van die XXXe Olimpiade | ||||||||||||||||||||||||
|
Die Olimpiese Somerspele 2012 (Engels: 2012 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die XXXste Olimpiade, is tussen 27 Julie en 12 Augustus 2012 in Londen, Verenigde Koninkryk, aangebied. Tydens die geleentheid het 10 568 atlete uit 204 nasies aan 302 items in 26 verskillende sportsoorte deelgeneem. Danksy die insluiting van vroueboks was daar vir die eerste keer in alle sporte vroulike deelnemers. Saoedi-Arabië, Katar en Broenei het vir die eerste keer vroulike atlete gestuur, sodat elke land wat tans in aanmerking kom, 'n vroulike mededinger na minstens een Olimpiese Spele gestuur het.
Dit was die dertigste aanbieding van die Somerspele sedert 1896. Dit was ook die derde keer dat Londen die spele georganiseer het na hulle eerste spele in 1908 en daarna in 1948. Daarmee het Londen die eerste stad geword wat driemaal Olimpiese Somerspele aangebied het. Naas Londen was Parys, Madrid, New York Stad en Moskou kandidate vir die organisasie van die 2012-Somerspele.
Die opening- en sluitingseremonies het in die Olimpiese Stadion plaasgevind. Soos gebruiklik het die lande in alfabetiese volgorde die stadion ingestap met Griekeland die eerste en die gasheer die Verenigde Koninkryk die laaste, maar aangesien die plaaslike taal Engels is, is dié taal se alfabet gebruik om die volgorde te bepaal. Caster Semenya, atleet en Wêreldkampioen tydens die Atletiekwêreldbeker in 2009, het die Suid-Afrikaanse vlag ingedra.[4]
Vir die Olimpiese Somerspele 2012 is die 200 ha Queen Elizabeth Olympic Park in Stratford opgerig. Die Spele het ook gebruik gemaak van plekke wat reeds voor die bod bestaan het. Hierdie Olimpiese Somerspele word algemeen as 'n groot sukses beskou, met stygende standaarde van kompetisie onder nasies regoor die wêreld, verpakte stadions en gladde organisasie. Verder is die fokus op nalatenskap en na-wedstryd-volhoubaarheid as 'n bloudruk vir toekomstige Olimpiese Spele beskou.[5][6]
Die Paralimpiese Somerspele 2012 is tussen 29 Augustus en 9 September in Londen gehou.